Kiepie en Kandas Kleuterskool

Om te kruip is seker een van die belangrikste mylpale in ‘n baba se ontwikkeling. Dit is een van die min aksies waar die teenoorgestelde arm en been saam gebruik word. Dit beteken dat beide kante van die liggaam en brein ontwikkel, en paadjies gevorm word tussen die twee helftes van die brein.

Daar is geweldig baie voordele om te kruip en ons moet ons babas aanmoedig om te kruip vir so lank as wat hulle wil. Moet hulle ook nie aanpor om te begin loop voordat hulle nie heeltemal gereed is daarvoor en reeds baie goed kan kruip nie.

Om net ‘n paar voordele van kruip uit te lig:

SPIERKRAG EN KOÖRDINASIE

Wanneer ‘n baba kruip, dra haar hande en knieë haar gewig. Sy hou haar balans en sy koördineer haar teenoorgestelde arm en been. Hierdie ingewikkelde stel aksies ondersteun groot- en fyn motoriese ontwikkeling.

Kruip:

  • Versterk die liggaam, skouer, arm en been spiertjies
  • verbeter koördinasie en balans
  • ontwikkel die spiertjies in baba se hande (belangrik vir fyn motoriese vaardighede)
  • ontwikkel die kurwe van haar ruggraat (wat nodig is om regop te loop)
  • versterk haar heupe (ook vir loop)
  • ontwikkel spiertonus en goeie postuur
  • Moedig baba aan om haar middellyn te oorkruis

BREINPAADJIES

Kruip is belangrik vir brein ontwikkeling, want dit:

  • versterk verbindings tussen die twee helftes van die brein
  • help baba met probleemoplossing en ander kognitiewe vaardighede

SIG

Om rond te beweeg, verbeter baba se sig. Dit ontwikkel:

  • afstandvisie aangesien hy na voorwerpe verder weg kyk
  • naby sig as hy na sy handjies kyk en voorwerpe op die vloer naby hom
  • oogspiere en fokus wanneer baba moet onderskei tussen voorwerpe wat naby en ver is
  • hand-oog koördinasie

SELFVERTROUE

Baba raak meer selfversekerd want sy:

  • bemeester ‘n besonders ingewikkelde vaardigheid 
  • is in staat om sosiaal te kommunikeer
  • word meer vertroud met haar omgewing

LANGTERMYN VOORDELE

Al hierdie ontwikkeling is belangrik vir baba se toekoms. Dit help ook om moontlike toekomstige leerprobleme te verminder. Byvoorbeeld, wanneer ‘n baba kruip, help dit hom op skool om:

  • ‘n potlood of pen behoorlik vas te hou
  • inligting akkuraat van ‘n swartbord af te skryf
  • Vind dit makliker om wiskunde te doen en te lees.

Pak dus weg daardie kosbare ornamente en maak jou huis kruip-vriendelik vir jou kleinding!

Baie liefde,

Candice