Die menslike liggaam word in ‘n linker- en regterkant verdeel deur ‘n denkbeeldige middellyn wat strek van jou kroontjie, deur jou neus tot tussen jou voete. Middellynkruising is die oorsteek van hierdie denkbeeldige lyn.
Middellynkruising maak bilaterale intgrasie moontlik, soos wanneer jy met ‘n mes en vurk eet, jou skoenveters vasmaak, of met ‘n skêr knip.
Wanneer die middellyn oorgesteek word, begin die vaslegging van hand-, voet-, en oogvoorkeur ook en dit is weer belangrik vir fyn motoriese vaardighede soos skryf, groot motoriese ontwikkeling en vloeiende oogbeweging wanneer ons lees.
Die middellyn word gekruis wanneer jy ‘n bal moet vang wat na die kant gegooi word, ‘n boek lees van links na regs en wanneer jy skryf. Dit gebeur ook wanneer jy jou balans moet hou op onstabiele oppervlaktes. ‘n Mens het dus goeie rotasie en middellynkruising vaardighede nodig vir balans.
‘n Kind wat sukkel om die middellyn oor te steek, kan byvoorbeeld sy plek verloor wanneer hy lees. Letters en nommers kan ook omgeruil word. Dit kan ook lyk of hy dubbelhandig is maar eintlik het die vaardigheid om oor die middel van die bladsy te skryf, nie goed genoeg ontwikkel nie.
Doen dus so gereeld as moontlik middellynkruising oefeninge met jou kind!